KWAZULU-NATAL. – Een persoon is dood en nog een is ernstig beseer in ’n botsing tussen twee voertuie Saterdagaand omstreeks 22:00 op die Sweetwaters-pad in Pietermaritzburg. Twee insittendes van ’n bakkie was ná die botsing in die voertuig vasgekeer.
Craig Botha van KwaZulu Private Ambulance (KZPA) sê paramedici het bevind een van die bakkie se insittendes het lewensgevaarlike beserings opgedoen en is op die toneel gestabiliseer. Die tweede insittende is aan beserings dood voordat nooddienste kon opdaag. Mediese spanne saam met die brandweer het gespesialiseerde reddingstoerusting gebruik om die beseerde insittendes uit die bakkie te bevry. Die insittende van die tweede voertuig het glo die toneel verlaat.
Geen verdere besonderhede is beskikbaar nie.