WES-KAAP. – Vier verdagtes is in afsonderlike ondersoeke na taxigeweld in hegtenis geneem. Die arrestasies hou verband met twee skietvoorvalle waarin vier taxi-eienaars dood is, asook ’n petrolbomaanval op die woning van die voorsitter van ’n taxivereniging. Die inhegtenisnemngs is die afgelope naweek in onderskeidelik Hermanus, Kensington en by die Langa-taxistaanplekke uitgevoer.
Brig. Novela Potelwa, polisiewoordvoerder, sê die provinsiale taxigeweldseenheid se speurders het twee verdagtes, 28 en 36 jaar oud, in verband met die skietvoorval by die Zwelihle-taxistaanplek in Hermanus in September aangekeer. Twee taxi-eienaars is tydens dié voorval doodgeskiet en ’n taxibestuurder is gewond. Die verdagtes sal na verwagting vandag op aanklagte van moord en poging tot moord in die Hermanus-landdroshof verskyn.
’n Derde verdagte, 29, is in Kensington in hegtenis geneem in verband met die petrolbomaanval op 30 September op die woning van die voorsitter van ’n taxivereniging in Retreat. Hy sal na verwagting vandag in die Wynberg-landdroshof voorkom. ’n Vierde verdagte, ook 29, is by die Langa-taxistaanplek aangekeer in verband met die skietvoorval by die Epping-taxistaanplek op 16 Oktober. Twee taxi-eienaars is daar doodgeskiet en nog ‘n persoon is gewond. Twee ander verdagtes is reeds op die dag van dié skietvoorval in hegtenis geneem. Die vierde verdagte sal na verwagting in die Bishop Lavis-landdroshof verskyn. Die polisie sê ontplooiings is by geïdentifiseerde brandpunte vir taxigeweld versterk, terwyl speurders voortgaan met hul ondersoeke.
Makhosandile Tumana, skakelbeampte van Santaco in die Wes-Kaap, sê die organisasie veroordeel die vermeende taxiverwante skietvoorvalle in Epping, Delft en Maitland ten sterkste. Volgens Santaco het voorvalle in Delft en Maitland Donderdag 22 Oktober vier lewens geëis en twee mense beseer. Die organisasie betuig sy meegevoel met die naasbestaandes van die oorledenes en wens die beseerdes ’n spoedige herstel toe. Santaco doen ’n beroep op wetstoepassingsowerhede om die voorvalle deeglik te ondersoek en die verantwoordelikes voor die gereg te bring. Die organisasie vra ook dat rolspelers in die taxibedryf geweld verwerp, kalmte handhaaf en wettige prosesse gebruik om geskille op te los. Volgens Tumana bly die beskerming van menselewens die hoogste prioriteit.