GAUTENG. – Die aantal mense wat maagdermsiekte opgedoen het van vermoedelik besmette drinkwater in Bronkhorstspruit, het tot 833 gestyg. Die waterkrisis het vrae laat ontstaan oor die Tshwane-metro se waterbehandeling, waarskuwings aan inwoners en die instandhouding van die waterinfrastruktuur.
Pemmy Majodina, die minister van water en sanitasie, het Maandag bevestig dat die aantal aangemelde gevalle van 408 tot 833 gestyg het. Ondersoeke het bevind dat water by die Bronkhorstspruit-waterbehandelingsaanleg tussen 24 September en 14 Oktober nie gechlorineer is nie weens probleme met die voorsiening van chloor. Laboratoriumtoetse het volgens die regering hoë vlakke van E. coli en ander koliforme bakterieë in watermonsters gevind, terwyl toetse van stoelgangmonsters norovirus, campylobacter en shigella opgespoor het.
Die waterbehandelingsaanleg is gesluit en Rand Water lei die herstelwerk. Die metro het die aanleg se bestuurder geskors hangende verdere ondersoek. ’n Onafhanklike ondersoek is gelas om vas te stel wat tot die probleme gelei het. Inwoners in gebiede wat deur die aanleg bedien word, word gewaarsku om nie kraanwater te drink of dit vir kosmaak, bad, tandeborsel of wasgoed te gebruik nie, selfs nie nadat dit gekook is nie. Die water mag slegs gebruik word om toilette te spoel. Drinkwater word intussen met watertenkwaens voorsien. Die waterveiligheidswaarskuwing bly van krag totdat die water veilig verklaar word.
Nasiphi Moya, die uitvoerende burgemeester, sê ’n watertenkwa met ’n kapasiteit van 36 000 liter is deur Coca-Cola geskenk om te help om water aan inwoners van Bronkhorstspruit en omliggende gebiede te lewer. Sy verwelkom die ondersteuning van rolspelers in die privaat sektor terwyl die Stad Tshwane en Rand Water vordering maak met die herstel van die watertoevoer deur die Bronkhorstspruit-waterbehandelingsaanleg. Die tenkwa sal by die Bronkhorstspruit-hospitaal, Hoërskool Cultura en die Riamar Park-winkelsentrum gestasioneer word.
Druk hier om meer te lees.