GAUTENG. – Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het reeds 172 721 voltooide aansoeke ontvang vir 5 500 beskikbare poste vir polisierekrute, nadat meer as 300 000 persone binne net meer as drie dae profiele op die aanlyn werwingsportaal geregistreer het. Die werwingsveldtog het op 21 Oktober begin en sluit op Vrydag 13 November 2026. Voornemende aansoekers moet Suid-Afrikaanse burgers tussen 18 en 35 jaar oud wees, oor ’n gr. 12-sertifikaat of gelykwaardige kwalifikasie beskik en minstens Engels en nog een amptelike taal magtig wees.
Kol. Amanda van Wyk, nasionale polisiewoordvoerder, sê meer as 232 000 aansoekers het hul profiele geverifieer en meer as 190 000 het met hul aansoeke begin. Van die aansoeke wat reeds ingedien is, is meer as 95 000 vroue en meer as 76 000 mans. Gauteng het die meeste aansoeke landwyd ontvang, met 49 518 voltooide en ingediende aansoeke, gevolg deur KwaZulu-Natal met 33 661 en die Oos-Kaap met 17 441.
Kandidate moet fisiek, medies en geestelik geskik wees, sielkundige en integriteitstoetse ondergaan en mag geen vorige strafregtelike veroordelings of hangende strafsake hê nie. Hulle moet ook bereid wees om veiligheidskeuring te ondergaan, vingerafdrukke en ’n wangmonster vir verifikasie te gee en op enige plek in Suid-Afrika diens kan doen. Tatoeëermerke wat sigbaar is wanneer die SAPD-uniform gedra word, word nie toegelaat nie.
Voorkeur sal gegee word aan aansoekers met ’n geldige bestuurslisensie vir minstens ’n ligte motorvoertuig en toepaslike tersiêre kwalifikasies op NKR-vlak 6 of hoër, onder meer in strafreg, polisiëring, forensiese ondersoek, inligtingstegnologie, rekenaarwetenskap, natuurwetenskappe en rekeningkundige wetenskappe.
Die SAPD waarsku dat hoë verkeer op die aanlyn portaal vertragings kan veroorsaak, maar bevestig dat die stelsel steeds in werking is. Aansoekers wat reeds ’n e-pos ter bevestiging ontvang het, hoef niks verder te doen nie. Diegene wat nie sodanige e-pos ontvang het nie, kan dit oorweeg om weer aansoek te doen.
Aansoeke is gratis en moet deur die amptelike SAPD-werwingsportaal ingedien word.