Brekende Nuus
Nuus

4 bly in aanhouding ná hofverskyning oor aanval op Donovan Marx

Foto: Eesruf Veiligheids Groep Reaksie-span

NOORDWES. – Vier van die vyf verdagtes wat in verband met die gewelddadige plaasaanval op die boer Donovan Marx (50) in die Ventersdorp-landdroshof verskyn het, bly in aanhouding Die vyfde verdagte, ’n 26-jarige man, het ’n staatsgetuie geword.

Volgens polisiewoordvoerder, kol. Adéle Myburgh, sal Alex Phimdile Nomngcayi (29), Mothoka Godfrey Mathipa (56), Mokhema Jan Maishone (53) en Thabo Thomas Motlhonglong (27) weer op 13 November in die hof voorkom. Die saak hou verband met die aanval op Marx op 28 Oktober op sy plaas in die Syferfontein-omgewing naby Ventersdorp. Drie gewapende aanvallers het na bewering ’n plaaswerker oorval en vasgebind voordat hulle Marx geskiet het toe hy by die plaas aangekom het. Hy is daarna die huis ingesleep, vasgebind, gesteek en aangerand. Sy ore is tydens die aanval afgesny.

Marx is ernstig beseer en is in die waakeenheid van ’n Potchefstroomse hospitaal behandel. Sy familie het bevestig dat chirurge nie sy ore kon red nie en dat prostetiese rekonstruksie moontlik later oorweeg kan word.

Die polisie het vroeër bevestig dat vyf verdagtes in verband met die aanval in hegtenis geneem is. Marx se gesteelde voertuig is ook teruggevind, terwyl vier vuurwapens tydens die ondersoek gekonfiskeer is, waarvan twee met die aanval verbind is.

Lindiwe Mabasa, NVG-woordvoerder, sê die beskuldigdes staan tereg op aanklagte van roof met verswarende omstandighede, poging tot moord, aanranding, die rig van ’n vuurwapen, die besit van ongelisensieerde vuurwapens en die onwettige besit van ammunisie. Die saak is vir ’n borgtogaansoek uitgestel.