OOS-KAAP. – Drie mans is Maandag dood tydens ’n skietgeveg met lede van die polisie se taktiese reaksie-eenheid (TRT) in die Nothintsila-omgewing by Ngqeleni.
Brig. Nobuntu Gantana, polisiewoordvoerder, sê TRT-beamptes van Mthatha het inligting ontvang oor drie mans wat na bewering by afpersing betrokke was en geld by plaaslike winkels ingesamel het. Die beamptes het omstreeks 10:15 op die Nothintsila-grondpad op drie mans afgekom wat aan die verdagtes se beskrywing voldoen het. Toe die polisiebeamptes hul voertuie stop en die mans nader, het die verdagtes na bewering op hulle losgebrand. Die beamptes het teruggeskiet en al drie mans is noodlottig gewond.
Drie pistole waarvan die reeksnommers afgevyl is, is op die toneel gevind. Die oorledenes is nog nie geïdentifiseer nie. Sake van poging tot moord en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie is geopen.
Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) is ingevolge wetgewing ontbied om die sterftes weens polisie-optrede te ondersoek. Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting oor die mans se identiteit of beweerde afpersingsbedrywighede om na vore te kom.