Die prys van dieselpryse daal vanaf Woensdag 4 November met meer as R1 per liter, terwyl motoriste wat petrol verbruik slegs ’n verlaging van een sent per liter sal sien. Gwede Mantashe, minister van minerale en petroleumhulpbronne, het die November-brandstofprysaanpassings aangekondig.
Diesel met ’n swaelinhoud van 0,05% sal met R1,10 per liter daal, terwyl 0,005%-diesel R1,20 per liter goedkoper word. Die prys van beide 93- en 95-oktaan-petrol daal met een sent per liter, terwyl die groothandelprys van paraffien met R2,75 per liter styg. Die maksimum kleinhandelprys van vloeibare petroleumgas (LPGas) styg met R1,83 per kilogram en met R2,08 per kilogram in die Wes-Kaap.
Die departement sê die gemiddelde prys van Brent-ruolie het gedurende die tydperk onder oorsig van 101 Amerikaanse dollar tot 108 dollar per vat gestyg. Dit word toegeskryf aan onsekerheid weens die konflik in die Midde-Ooste, waaronder onlangse aanvalle op infrastruktuur in Saoedi-Arabië, asook hoër vrag- en versekeringskoste.
Internasionaal het die prys van petrol, diesel en paraffien ook gestyg. Die departement skryf die hoër prys van middelste distillate onder meer toe aan beperkte wêreldwye voorraad, groter seisoenale vraag voor die winter in die Noordelike Halfrond en die voortgesette konflik tussen Rusland en Oekraïne.
Die rand het ook verswak en gemiddeld van R16,21 tot R16,55 teenoor die Amerikaanse dollar verhandel. Volgens die departement het dié faktore tot verdere druk op plaaslike brandstofpryse bygedra.
Druk hier om meer te lees.