Brekende Nuus
Nuus

Verdagte ontsnap steeds geboei uit polisiebewaring

Foto: SAPD

LIMPOPO. – Matome Lodwick Ratjomane (45) het Sondagaand (1 November) omstreeks 21:10 uit wettige polisiebewaring ontsnap. Hy was op aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer, wat na bewering in September vanjaar plaasgevind het, in hegtenis geneem.

Volgens polisiewoordvoerder, kol. Malesela Ledawaba, was Ratjomane by die Maleboho-polisiekantoor se gemeenskapsdienssentrum, sodat sy besonderhede aangeteken kon word, toe hy glo te voet in die rigting van die plaaslike hofperseel gehardloop het. Hy was in daardie stadium steeds geboei. ’n Soektog is dadelik by die polisiekantoor en omliggende gebiede van stapel gestuur, maar hy kon nie opgespoor word nie. Hy staan nou ook tereg op ’n bykomende aanklag van ontsnapping uit wettige aanhouding.

Die polisie waarsku die publiek om nie die verdagte te nader of self te probeer aankeer nie, maar om die polisie onmiddellik in kennis te stel indien hulle hom opmerk. Enigiemand met inligting wat kan help om Ratjomane op te spoor, kan sers. Matome Moitsi, by 082 414 3035 of 072 278 0050 bel.