Brekende Nuus
Nuus

Boedelberedderaar in hegtenis in R11 m.-boedelondersoek

Foto: Ter illustrasie

LIMPOPO. – Die Valke het Dinsdag 10 November ’n man (53) op verdenking van korrupsie in hegtenis geneem in ’n ondersoek na die beweerde wanbesteding van sowat R11 miljoen uit 15 bestorwe boedels.

Kol. Avele Fumba, Valke-woordvoerder, sê die man werk as boedelberedderaar by die kantoor van die Meester van die Hooggeregshof. Hy sou na verwagting Dinsdag saam met die prokureur, Charlotte Tibana, in die Polokwane-landdroshof verskyn. Die Valke ondersoek of die man in 2023 sy posisie misbruik het om kliënte met sake oor bestorwe boedels na Tibana se regspraktyk te verwys. Tibana, haar man Peter Nonyane, ook bekend as Gagashe, en ander medebeskuldigdes is reeds in hegtenis geneem.

Die breër ondersoek behels bewerings van bedrog, diefstal en geldwassery.