NOORDWES. – ‘n Ma (34) is Donderdag ‘n boete van R6 000 of drie jaar tronkstraf opgelê nadat sy in die Klerksdorp-landdroshof skuldig bevind is aan die aanranding van haar 12-jarige dogter in Kanana. Sy het haar dogter gebyt en met ‘n besemstok geslaan
Sers. Kelebogile Morake, polisiewoordvoerder, sê die hof het die vonnis in geheel vir vyf jaar opgeskort op voorwaarde dat die ma in dié tydperk nie aan aanranding skuldig bevind word nie. Sy moet ook programme oor woedebestuur en ouerskap bywoon soos ’n maatskaplike werker bepaal. Die 12-jarige het op die oggend van 6 Maart huilend by haar pa se huis aangekom. Sy het hom vertel dat haar ma haar ná ’n meningsverskil oor klere met ’n besemstok geslaan en op haar rug gebyt het. Sy het kneusplekke aan haar linkeroog en aan die linkerkant van haar rug opgedoen. Die voorval is eers by ’n maatskaplike werker en daarna by die polisie aangemeld.
Speur.konst. Tumisang Lobaleng van Klerksdorp se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (GKS) en Anja Gressman, die staatsaanklaer, het die saak suksesvol ondersoek en in die hof deurgevoer.