WES-KAAP. – ’n Nuwe padprojek in die Paarl sal Bergrivierboulevard met die R45 verbind om verkeer van Hoofstraat weg te lei en verkeersvloei in die dorp te verbeter. Die projek sal volgens die Drakenstein-munisipaliteit tot 15 Desember 2027 duur. Plaaslike ontwikkelaars finansier die projek deur ontwikkelingsbydraes, terwyl die munisipaliteit tot die uitvoering daarvan bydra.
Volgens die Drakenstein-munisipaliteit sal Bergrivierboulevard tussen Optenhorststraat en Skoolstraat verleng word. Sypaadjies en randstene op dele van die boulevard sal opgegradeer word en nuwe straatligte sal langs die roete aangebring word. Die belyning van Langstraat word aangepas om by die nuwe padvlakke aan te sluit. Kleiner werke sal ook in Skoolstraat gedoen word.
Langstraat en dele van Bergrivierboulevard naby Honeydew Estate sal tydens die bouwerk vir kort tye gesluit wees. Bouwerk sal tussen 08:00 en 18:30 plaasvind. Navrae kan aan Schalk Liebenberg van Umzali Civils by 082 219 3282 gerig word.