GAUTENG. – Helen Zille se prokureurs het namens haar en die DA al die eise van EFF-leier Julius Malema se regspan verwerp, waaronder sy eis dat sy haar uitlatings oor hom terugtrek en in die openbaar om verskoning vra.

Minde Schapiro & Smith Inc. het ontvangs van Malema se eisbrief van 9 November bevestig en geskryf: “The answer to all your client’s demands is: No. See you in court.” Die firma het gevra dat enige hofaansoek per e-pos op hulle beteken word. Zille het op Facebook geskryf: “No.”
Angelike Charalambous, prokureur by England Slabbert Attorneys Inc., skryf in Malema se eisbrief dat Zille op Sondag 8 November in ’n onderhoud beweer het dat hy tydens Herman Mashaba se termyn as burgemeester besluite in die Stad Johannesburg beïnvloed het. Die uitlatings het betrekking gehad op City Power, die stad se voertuigvloottender en die aanstelling van Shadrack Sibiya as hoof van die stad se teenkorrupsie-eenheid.
Die EFF het die eisbrief op sosiale media gedeel en die aantygings as onwaar en lasterlik beskryf. Malema se regspan het Zille tot sakesluiting op Woensdag 11 November gegee om haar uitlatings terug te trek, in die openbaar om verskoning te vra, ’n formele mediaverklaring uit te reik en skriftelik te onderneem om die aantygings nie te herhaal nie. Die regspan het gewaarsku dat verdere regstappe ’n eis om skadevergoeding en ’n aansoek om ’n interdik teen verdere publikasie kan insluit.
