Brekende Nuus
Munisipaliteite

Kaapstad se feesliggies reg vir aanskakel op 29 November

Kaapstad se feesliggies word Sondag 29 November amptelik aangeskakel tydens ’n gratis konsert op die Grand Parade. Vanjaar se tema is Beacon of Hope.

Kaapstad se feesliggies met die tema Beacon of Hope in die middestad
Kaapstad se feesliggies met vanjaar se tema, Beacon of Hope, is reeds getoets. Foto: Verskaf

Kaapstad se feesliggies in Adderleystraat het reeds ’n voorsmakie van die feestyd gegee toe vanjaar se liggies getoets is. Die liggies word op Sondag 29 November amptelik aangeskakel tydens ’n gratis konsert in die middestad.

Vanjaar se tema is Beacon of Hope, oftewel ’n baken van hoop. Die 57ste feesliggie-aanskakeling begin om 16:00 op die Grand Parade in Darlingstraat, met ruimte vir feesgangers wat tot in Adderleystraat strek. Die verrigtinge duur tot 22:00.

Kaapstad se feesliggies getoets

Die burgemeester-verkose, Geordin Hill-Lewis, het saam met verskeie kunstenaars die nuut geïnstalleerde liggies getoets. Onder hulle was Ricki Vani Frontline, die rapper Dee Koala, sanger Vernon White, die West London All Stars, die Neon Pulse Drummers, DJ Dre en die mede-aanbieder Tyrone Paulsen.

Hill-Lewis het tydens die geleentheid ’n moulose gehekelde frokkie ontvang wat deur Inez Shaw van Kenilworth gemaak is. Haar ontwerp was die wenner van die stad se Wear the Hope-ontwerp-en-maak-uitdaging.

Wie tree op?

Feesgangers kan uitsien na optredes deur die SAMA-bekroonde duo Jazzwrld en Thukuthela, Liquideep, Nasty C en die Afrikaanse sangeres Monique Steyn.

Toegang tot die konsert is gratis. Meer besonderhede is op die Stad Kaapstad se webwerf beskikbaar.