Brekende Nuus
Nuus

Plaaseienaar in hegtenis ná beweerde aanranding

Foto: Ter illustrasie

LIMPOPO. – ’n Plaaseienaar (50) is Woensdag 11 November in hegtenis geneem nadat ’n man na bewering ernstig op ’n plaas in Mookgophong aangerand is. Die man is later in die hospitaal dood. Die polisie ondersoek die beweerde ernstige aanranding en het ’n geregtelike doodsondersoek geopen om die omstandighede van die man se dood vas te stel.

Brig. Hlulani Mashaba, polisiewoordvoerder, sê twee mans van Phomolong het Maandag 9 November omstreeks 23:30 na bewering sonder toestemming die plaas betree om vis te vang. Die plaaseienaar en sy seun het hulle glo betrap en volgens die polisie agternagesit, een van die mans ingehaal en hom na bewering aangerand. Die ander man het weggekom en die vermiste man se familie ingelig. Gemeenskapslede het daarna ’n pad versper en antwoorde oor die vermiste man geëis.

Kort voordat die polisie se honde-eenheid met die soektog sou begin, het ’n hospitaal die polisie laat weet dat ’n onbekende man ’n pasiënt daarheen gebring het. Die pasiënt is glo deur ’n voertuig raakgery en is later dood. Sy beskrywing het met dié van die vermiste man ooreengestem, waarna die polisie die soektog afgelas het. Die plaaseienaar sal vandag (Donderdag) in die Mookgophong-landdroshof verskyn op ’n aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer.