Brekende Nuus
Gesondheid

DA vra antwoorde oor middelweerstandige Klebsiella pneumoniae in Gautengse hospitale

Die DA wil weet hoe pasiënte in openbare hospitale teen middelweerstandige Klebsiella pneumoniae beskerm word nadat ’n studie byna 80% weerstand by drie Johannesburgse hospitale gevind het.

Illustrasie van bakterieë en virusse, Klebsiella pneumoniae
Foto: Verskaf

Die DA wil antwoorde hê oor die voorkoms van middelweerstandige Klebsiella pneumoniae-infeksies in openbare hospitale en die stappe wat gedoen word om pasiënte te beskerm.

Volgens Michéle Clarke, die DA se woordvoerder oor gesondheid, het ’n studie bevind dat byna 80% van die Klebsiella pneumoniae-bakterieë wat by drie akademiese hospitale in Johannesburg ondersoek is, weerstand teen verskeie antibiotika toon.

Die studie is volgens Clarke deur die Universiteit van die Witwatersrand se entstof- en aansteeklikesiektesnavorsingseenheid, Wits-VIDA, en die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS) by die Charlotte Maxeke-, Chris Hani Baragwanath- en Helen Joseph-hospitaal gedoen.

Clarke sê byna die helfte van die bakterieë in die studie het ook weerstand teen karbapeneme getoon. Dié antibiotika word gebruik om ernstige bakteriële infeksies te behandel.

Meer as 6 000 Klebsiella pneumoniae-gevalle vanjaar

Sy sê meer as 6 000 gevalle van Klebsiella pneumoniae is vanjaar reeds aan die NIOS aangemeld, waaronder byna 2 000 gevalle by pasgeborenes. Volgens haar is oor die afgelope drie jaar gemiddeld sowat 3 000 gevalle jaarliks aangemeld.

Wat die DA wil weet

Clarke sê die DA wil die nasionale departement van gesondheid en die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens tydens ’n vergadering van die parlement se portefeuljekomitee oor gesondheid oor die infeksies uitvra.

Die party wil weet hoeveel gevalle die afgelope drie jaar in openbare gesondheidsfasiliteite in elke provinsie aangemeld is en hoeveel pasiënte, sover bekend, daaraan gesterf het. Die DA wil ook besonderhede hê oor planne om uitbrekings te bestuur en verdere verspreiding te voorkom.

Klebsiella pneumoniae kan onder meer deur gesondheidswerkers se hande, besmette toerusting en gedeelde pasiëntversorgingsruimtes versprei.

Nuusflits het die Gautengse departement van gesondheid en die NIOS om kommentaar gevra. Die artikel sal bygewerk word sodra terugvoer ontvang word.