GAUTENG. – Monique van Aswegen is Vrydagaand 13 November in hegtenis geneem in verband met die moord op Jackie van Aswegen, wat in September 2022 by haar woning in Brakpan vermoor is.
Volgens ’n verklaring deur Specialised Security Services (SSS), onder leiding van Mike Bolhuis, het die SAPD-ondersoekbeampte en sy span die arrestasie uitgevoer nadat ’n lasbrief vir Monique se inhegtenisneming in September vanjaar uitgereik is.
SSS sê sy is die vrou van André van Aswegen, Jackie se seun, wat kort ná die moord saam met ’n medepligtige in hegtenis geneem is nadat hulle na bewering hul betrokkenheid by die misdaad erken het.
Volgens SSS het getuienis wat tydens die daaropvolgende hofverrigtinge na vore gekom het, daarop gedui dat ’n derde persoon moontlik ook by die moord betrokke was. Die ondersoek het voortgeduur omdat daar aanvanklik nie genoeg bewyse was om dié persoon in hegtenis te neem nie.
SSS sê sy ondersoekspan het Monique se verblyfplek opgespoor en die inligting aan die SAPD-ondersoekbeampte oorhandig. Dit het die polisie in staat gestel om haar in hegtenis te neem.
Sy sal na verwagting Maandag 16 November in die Tsakane-landdroshof voorkom.
SSS het die SAPD-ondersoekbeampte, AO Xaba, en sy span bedank vir hul volgehoue samewerking en ondersoekwerk.
Bron: Specialised Security Services (SSS)