MMAKAU. – ’n 33-jarige vrou en ’n 22-jarige man is in hegtenis geneem nadat die polisie ’n fetus in ’n vlak graf op ’n eiendom in Mmakau, Noordwes, gevind het.
Die polisie het Donderdag 12 November inligting ontvang oor ’n fetus wat na bewering by ’n woning in die Selosesha-woonbuurt begrawe is. Ondersoekbeamptes het die volgende dag die inligting opgevolg en ’n vlak graf gevind.
Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) was ‘n vrou na bewering ongeveer vyf maande swanger toe sy vroeg op Woensdag 11 November siek geword het. ’n Fetus is die volgende oggend deur die man in ’n emmer ontdek. Hy het dit na bewering in ’n kombers toegedraai en begrawe.
Volgens die polisie het die twee verdagtes die fetus later opgegrawe en weer by die vrou se woning in Selosesha in ’n vlak graf begrawe.
Die verdagtes het die polisie na die eiendom gelei waar die fetus begrawe is. Die vrou is na die Ga-Rankuwa-kliniek vir mediese behandeling geneem.
Die twee staan tereg op ’n aanklag van verberging van geboorte en sal na verwagting Maandag 16 November in die Ga-Rankuwa-landdroshof verskyn.
Lt.genl. AP Adams, provinsiale kommissaris van die SAPD in Noordwes, het die polisiebeamptes vir hul optrede en die opvolg van inligting geloof wat tot die arrestasies gelei het.
Bron: SAPD