President Cyril Ramaphosa lei vanaf vandag, 15 November, ’n Suid-Afrikaanse afvaardiging na Silicon Valley in die VSA om kennis oor kunsmatige intelligensie (KI) uit te brei en moontlike beleggings- en samewerkingsgeleenthede te ondersoek.
Die werksbesoek duur tot 21 November en bring verteenwoordigers van die regering, sakewêreld, akademie en navorsingsinstellings bymekaar. Prof. Blade Nzimande, minister van wetenskap, tegnologie en innovasie, is deel van die afvaardiging.
Volgens die presidensie sal die besoek Suid-Afrika help om internasionale ontwikkelings op die gebied van KI beter te verstaan en te bepaal hoe die tegnologie verantwoordelik in die land se ekonomie en openbare sektor gebruik kan word.
Die program sluit gesprekke met tegnologiemaatskappye, beleggers, navorsers en akademici in. Die afvaardiging sal op 17 November by Stanford-universiteit wees, waar gesprekke oor onder meer KI-navorsing, tegnologie en die ekonomie gevoer sal word.
Die program sluit ook besoeke aan Alphabet en Google, Cisco, Palo Alto Networks en Microsoft se ervaringsentrum in. Die gesprekke sal onder meer fokus op KI-toepassings, digitale infrastruktuur en kuberveiligheid.
Op 18 November word ’n werksessie in San Jose gehou met die tema “South Africa and the Future of AI”. Dit sal onder meer handel oor die infrastruktuur wat nodig is om KI in Suid-Afrika uit te brei, die gebruik daarvan in die regering en die veiligheidsrisiko’s wat daarmee gepaardgaan.
’n Verdere fokus is om Suid-Afrika as ’n moontlike KI-sentrum op die Afrika-kontinent te posisioneer. Tydens die South Africa AI Opportunity-byeenkoms sal deelnemers kyk na die belegging, datasentrums, rekenaarkapasiteit en energievoorsiening wat nodig is om ’n mededingende KI-ekonomie te ontwikkel.
Nzimande sê die besoek bied ’n geleentheid om Suid-Afrika se vermoëns op die gebied van KI te versterk, internasionale navorsingsamewerking uit te brei en plaaslike innovasie te ondersteun.
Volgens hom is die digitale ekonomie ’n belangrike strategiese pilaar van die land se Tienjaarplan vir Wetenskap, Tegnologie en Innovasie (2022–2032), met kunsmatige intelligensie as een van die departement se prioriteite.
Die afvaardiging sal ook kyk na die moontlike toepassing van KI in onder meer gesondheid, onderwys, strafregpleging, openbare administrasie en staatsdienslewering.
Die presidensie sê die besoek sal Suid-Afrika se benadering tot KI-ontwikkeling en -regulering help vorm, met aandag aan databeskerming, digitale soewereiniteit en verantwoordelike gebruik van die tegnologie.
Bron: Die Presidensie; Departement van Wetenskap, Tegnologie en Innovasie