Mariska Joubert skryf:
My pad om ’n dokter te word was allesbehalwe reguit of maklik. Dit was ’n reis van drome, ompaaie, opoffering, verlies en die vasberadenheid om aan te hou wanneer omstandighede moeilik raak.
Ek het aanvanklik Geologie gestudeer, deels omdat mense my ontmoedig het om Geneeskunde te studeer. Toe ek uiteindelik vir Geneeskunde aansoek gedoen het, is ek nie aanvaar nie.
Ek het toe ’n ander rigting ingeslaan en Dieetkunde begin studeer. Dit is ’n vakgebied waarvoor ek baie lief geword het en ek het my graad uiteindelik met lof voltooi. Ek het uitgesien na ’n loopbaan as dieetkundige, maar die droom om eendag ’n dokter te word het nooit verdwyn nie.
Om dié droom te verwesenlik, moes ek eers gaan werk. Ek het my gemeenskapsdiens as dieetkundige voltooi om praktiese ervaring op te doen en genoeg geld te spaar om ten minste my eerste jaar van mediese studies self te finansier.
Uiteindelik het ek weer aansoek gedoen en die geleentheid gekry waarvoor ek so lank gewerk het.
Verlies en terugslae
My pad deur mediese skool het egter met groot persoonlike uitdagings gepaardgegaan.
Tydens my eerste jaar is my pa met kanker gediagnoseer. Hy is later dieselfde jaar oorlede. Ek moes sy verlies en die emosionele impak daarvan verwerk terwyl ek terselfdertyd die eise van mediese skool moes hanteer.
Die volgende jaar was ek in twee motorongelukke betrokke. Een het ’n skedelfraktuur tot gevolg gehad en ek moes in die hospitaal opgeneem word.
Finansiële uitdagings en verdere persoonlike terugslae het my ook op die proef gestel. Kort voor my derdejaar-chirurgie-eksamen het ons familieplaas byna in ’n brand verlore gegaan.
Daar was tye waarin verskeie aspekte van my lewe gelyktydig onseker gevoel het, maar ek het telkens besluit om aan te hou.
Meer as akademiese prestasie
Wat dié reis vir my besonders maak, is dat ek ten spyte van die omstandighede steeds akademies kon presteer. Oor my akademiese loopbaan het ek altesaam 61 vakke en modules met onderskeiding geslaag.
Akademiese prestasie was vir my nie bloot ’n doelwit nie. Dit was ook ’n manier om myself te herinner waarom ek dié pad gekies het en waarvoor ek so hard gewerk het.
Akademie was egter nooit die enigste deel van my universiteitslewe nie. Ek het ook sterk in leierskap en gemeenskapsbetrokkenheid geglo.
My betrokkenheid by die Universiteit van die Vrystaat se JOOL het my die geleentheid gegee om by gemeenskapsprojekte, fondsinsamelings en diens aan ander betrokke te wees. Ek was ook in 2017 ’n finalis in die UFS JOOL-koninginkompetisie.
Ek glo sukses word nie net gemeet aan wat ’n mens akademies bereik nie, maar ook aan die verskil wat jy in ander mense se lewens kan maak.
Van Geologie tot ’n graad in Dieetkunde, die besluit om weer van voor af te begin en uiteindelik die voltooiing van my mediese opleiding: elke fase het my gevorm.
My verhaal gaan nie daaroor dat alles altyd volgens plan verloop het nie. Dit gaan eerder daaroor dat jou beginpunt, teleurstellings of omstandighede nie jou eindbestemming hoef te bepaal nie.
Ek hoop my verhaal kan ander jongmense en studente inspireer wat nie aanvanklik die geleenthede kry waarop hulle gehoop het nie, wat finansiële uitdagings ervaar, geliefdes verloor het of voel dat die lewe hul drome al hoe verder buite bereik plaas.
Soms is die pad na jou droom nie die pad wat jy oorspronklik beplan het nie. Maar dit beteken nie dat jy dit nie kan bereik nie.