GAUTENG. – Die DA het vandag (Maandag) ’n beroep gedoen dat diegene wat verantwoordelik was vir beweerde geweld en skade by die eerste sitting van die nuutverkose Emfuleni- munisipale raad, aanspreeklik gehou word. Volgens die party het EFF-raadslede na bewering raadsmeubels beskadig en die sitting só ontwrig dat die polisie die munisipale bestuurder uit die raadsaal moes begelei.
Ashor Sarupen, voorsitter van die DA se federale raad, sê inwoners het raadslede verkies om ’n munisipale regering saam te stel en basiese dienste te herstel. Hy sê Emfuleni gaan reeds jare lank gebuk onder finansiële probleme en swak dienslewering. Sarupen het partye wat koalisies met die EFF oorweeg, gevra hoe hulle stabiele plaaslike regering sal verseker in die lig van die beweerde voorval. Hy sê koalisies kan slegs funksioneer as die deelnemende partye die oppergesag van die reg en die raad se demokratiese besluitneming respekteer.
Die DA vra dat diegene wat by die beweerde intimidasie en skade betrokke was, geïdentifiseer word en dat strafregtelike stappe gedoen word waar die getuienis dit regverdig.