André van Eck van Worcester skryf:
Dié maand is dit 30 jaar sedert die bekende akteur en stoeier Dwayne “The Rock” Johnson sy debuut in die WWE gemaak het. Die mylpaal word wyd in die stoeiwêreld gevier, aangesien Johnson as een van die grootste stoeiers van alle tye beskou word.
Johnson het op 17 November 1996 sy debuut gemaak toe die organisasie nog as die WWF bekendgestaan het. Hy het aanvanklik onder die naam Rocky Maivia gestoei – ’n samestelling van die name van sy pa, Rocky Johnson, en sy oupa, Peter Maivia, wat albei ook stoeiers was.
Dít het van Johnson die WWE se eerste derdegenerasiestoeier gemaak. Dit is ook gereeld deur kommentators tydens sy gevegte genoem.
Ek onthou self nog Johnson se debuut, aangesien ek in daardie jaar as laerskoolseun ’n stoeiaanhanger geword het.
In 1997 het Johnson begin om na homself as “The Rock” te verwys en dit het mettertyd die naam geword waaronder hy gestoei het. Sy nuwe persona het hom baie gewild onder stoeiaanhangers gemaak.
Op 15 November 1998 het Johnson die WWF-kampioenskap gewen en geskiedenis gemaak as die organisasie se eerste swart kampioen.
Hy het tot 2004 voltyds gestoei, waarna hy sy loopbaan as akteur in Hollywood voortgesit het. Hy het later weer na die stoeikryt teruggekeer en nóg ’n WWE-titel gewen.
Sy gevegte teen Steve Austin, Hulk Hogan en John Cena by stoei se grootste jaarlikse skouspel, WrestleMania, word steeds onder die sport se onvergeetlikste oomblikke gereken.
Van die stoeikryt na die silwerdoek
Johnson se eerste rolprentverskyning was in The Mummy Returns in 2001. Daarna het hy die hoofrol in The Scorpion King vertolk.
Sedertdien was hy ook in groot rolprentreekse soos Fast & Furious en Jumanji te sien. Sy rolprente het miljarde dollars by die loket verdien en hy het hom as een van Hollywood se bekendste en bes betaalde akteurs gevestig.
Vir sy rol in die sportdrama The Smashing Machine (2025) is Johnson vir ’n Golden Globe as beste akteur in ’n drama benoem. Hy het ook lof ontvang vir sy vertolking in ’n meer emosionele rol, aangesien hy tradisioneel veral as ’n aksieheld bekendstaan.
Die afgelope 30 jaar in die stoei- en vermaaklikheidswêreld het beslis baie hoogtepunte opgelewer en Johnson is na my mening moontlik die bekendste stoeipersoonlikheid van alle tye.
Ek is seker ons sal in die komende jare nog baie van dié superster hoor en sien en dat hy altyd as ’n legende van die sport onthou sal word.
André van Eck, Worcester