OOS-KAAP. – Die Duitse bandvervaardiger Continental kan produksie by sy fabriek in Gqeberha vroeg in 2027 staak indien daar geen lewensvatbare alternatief vir sluiting gevind word nie. Sowat 950 werknemers kan geraak word.
Luidens Continental se verklaring van 20 November werk die fabriek ondanks verskeie pogings om sy prestasie te verbeter, reeds jare lank ver onder sy produksievermoë. Goedkoper ingevoerde bande, stygende energiekoste, ontwrigtings in die voorsieningsketting en verswakkende infrastruktuur plaas verdere druk op die aanleg. Die maatskappy het ingevolge artikel 189A van die Wet op Arbeidsverhoudinge met formele konsultasies begin om alternatiewe vir sluiting te ondersoek en die moontlike uitwerking op werknemers te beperk.
Irvin Jim, hoofsekretaris van die Nasionale Metaalwerkersvakbond van Suid-Afrika (Numsa), het Maandag 23 November aan SABC News gesê die vakbond sal die voorgestelde sluiting teenstaan. Numsa beplan om met die betrokke partye te vergader om alternatiewe te bespreek. Jim het ook ’n beroep op die regering gedoen om in te gryp en gewys op die verlies aan werkgeleenthede ná Goodyear se fabriekssluiting in Kariega.
Die Suid-Afrikaanse Federasie van Vakbonde (Saftu), waarby Numsa geaffilieer is, het in sy verklaring van 21 November ’n beroep op die departement van handel, nywerheid en mededinging en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie gedoen om Continental, Numsa en ander belanghebbendes dringend byeen te bring. Die federasie wil hê hulle moet alle uitvoerbare opsies ondersoek om produksie aan die gang te hou en poste te red.
Die aanleg vervaardig sedert 1947 bande en het in 1985 met die vervaardiging van Continental-bande begin. Volgens die maatskappy sal sy verkoopspan steeds vanuit Gqeberha werk en sal sy BestDrive-kleinhandelnetwerk voortgaan. Goodyear het sy aanleg in Kariega in 2025 gesluit, terwyl Bridgestone sy fabriek in die destydse Port Elizabeth in November 2020 gesluit het.
Bronne: Continental, SABC News, SAFTU