KWAZULU-NATAL. – Die voormalige Protea-krieketspeler Pat Symcox het Dinsdag die publiek se hulp gevra nadat sy silwer 2010 Mercedes-Benz SLK op 18 November uit die parkeerterrein by die Sandy Centre in Pinetown gesteel is. Die motor se registrasienommer is DL18TPZN.
Pat Symcox sê in sy sosialemediaplasing sy motorsleutels is uit sy kantoor by die sentrum gesteel. Volgens hom wys ‘n veiligheidskamera-opname twee mans wat glo by die diefstal betrokke was, asook ’n ander voertuig waarvan die registrasienommer sigbaar is. Sy skootrekenaarsak met onder meer sy paspoort, bankkaarte en ’n bos sleutels was in die kattebak.
Symcox sê die polisie het binne die eerste uur begin ondersoek instel. Teen die tyd van sy plasing was die motor steeds soek. Hy vermoed dit is êrens geparkeer en agtergelaat en sê die motor het geen werkende opsporingstoestel nie. Hy vra enigiemand wat die motor gewaar om speur.konst. Duma by 078 184 9247 te bel.