Brekende Nuus
Nuus

Polisie ondersoek moord nadat 25-jarige ná beweerde aanranding sterf

Foto: John Stevens

Waarskuwing! Video-opname aan einde van berig kan sensitiewe lesers ontstel.

OOS-KAAP. – Daniël Stevens (25) is in ’n plaaslike hospitaal dood nadat vier mans hom na bewering Saterdag 21 November omstreeks 21:50 by ’n kuierplek in Jeffreysbaai ernstig aangerand het toe hy ’n vriend probeer help het. Die Jeffreysbaai-polisie ondersoek ’n moordsaak. ‘n Video-opname van die voorval word wyd op sosiale media gedeel. Stevens was by Go Fish Africa en Duvan Fishing Charters in Gqeberha in diens.

Kapt. Marius McCarthy, polisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits Stevens het buite die kuierplek gestaan toe hy gehoor het vier mans rand sy vriend binne aan. Toe hy sy vriend probeer help, het die vier mans hom na bewering aangerand. ’n Omstander het probeer ingryp, maar die aanranding het glo voortgeduur. Toe Stevens probeer wegkom, het hy teen ’n verbygaande bakkie geval en sy kop teen die tralies gekap. Een van die verdagtes het hom na bewering weer met die vuis geslaan, waarna hy geval en die agterkant van sy kop hard gestamp het. Hy is met ernstige beserings na ’n plaaslike hospitaal geneem, waar hy later aan sy beserings beswyk het.

Die polisie het nog nie die verdagtes geïdentifiseer nie. Enigiemand met inligting word gevra om na vore te kom. Die polisie sal alle inligting vertroulik hanteer.

John Stevens het enkele ure gelede ‘n foto van die oorledene gedeel wat hy met ‘n foto van ses jaar gelede vergelyk het en gesê: “…en nou is ons Danieltjie weg.”