GAUTENG. – Gawie en Louise Botes, ’n bejaarde egpaar, het hul huis en byna al hul besittings verloor nadat weerlig hul grasdakhuis in die Pretoria-omgewing kort ná 04:00 op Dinsdag 24 November getref en ’n brand veroorsaak het.
Hero Burn Foundation sê in ’n sosialemediaplasing wat Woensdag gedeel is dat die stigting om 04:38 ’n oproep oor die brand ontvang en binne 15 minute op die toneel aangekom het. Die brandweer is ook ontbied. Die egpaar het onder meer hul voertuig, klere en foto’s in die brand verloor. Volgens die stigting was Louise se selfoon die enigste besitting wat hulle kon red. Volgens Kilo Delta on Call was die man en vrou in die huis toe die weerlig dit getref het.
Hero Burn Foundation vra vir bydraes om die egpaar te help. Enigiemand wat wil bydra, kan Pieter by 083 777 5484 of Marina by 083 776 8756 bel.