Brekende Nuus
Nuus

4 inisiasieskole gesluit – 4 verdagtes ná afsondelike aanval vas

Foto: Ter illustrasie

VRYSTAAT. – Owerhede het Dinsdag vier onwettige inisiasieskole gesluit, drie by Maselspoort en een in Botshabelo. In ’n afsonderlike saak het die polisie vier verdagtes in hegtenis geneem nadat ’n man Maandagaand ernstig beseer is toe hy na bewering op pad na ’n inisiasieskool naby Reddersburg met knopkieries aangeval is.

Lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, sê polisiebeamptes, amptenare van die departement van samewerkende regering en tradisionele sake en nood- mediese personeel was Dinsdag na drie ongeregistreerde inisiasieskole by die Maselspoort-oord. Vyf 15-jariges wat die skool bygewoon het, is aangetref. Die span het gesondheidsprobleme onder hulle vasgestel, waaronder hoë bloeddruk en chroniese siekte. 

Die polisie van Glen het sake geopen oor die bedryf van ongeregistreerde inisiasieskole en die toelating van tieners jonger as 16. Die polisie ondersoek ook ’n saak van betreding nadat ’n bestuurslid aangemeld het dat die hek se slot gebreek is en dat niemand toestemming gegee het om ’n inisiasieskool op die perseel te bedryf nie.

Covane sê amptenare en polisiebeamptes het dieselfde dag in afdeling E in Botshabelo op twee tienners van 15 en 17 jaar afgekom. ’n 36-jarige vrou wat by hulle was, het gesê sy is ’n versorger. Die kinders se ouers het bevestig dat hulle nie toestemming gegee het nie en nie geweet het hul kinders is by ’n inisiasieskool nie. Geen dokumente wat die skool magtig om te bedryf, is getoon nie. Die span kon ook nie die skoolhoof of die tradisionele geneser opspoor nie. Advokaat Thabo Lehabe van die provinsiale inisiasiekoördineringskomitee het gelas dat die skool gesluit en die kinders aan hul ouers oorhandig word.

Sers. Sinah Mpakane, polisiewoordvoerder, sê ’n 27-jarige man van Reddersburg het aangemeld dat hy Maandag omstreeks 21:00 op pad was om ‘n persoon by ‘n inisiasieskool op ’n naburige plaas te besoek. Volgens hom het vier mans wat hy goed ken, hom met knopkieries aangeval toe hy by Bellview-plaas verbygegaan het. Hy het ernstige kopbeserings opgedoen.

Vier verdagtes tussen 20 en 41 jaar oud is in hegtenis geneem en sal na verwagting binnekort op ‘n aanklag van poging tot moord in die Reddersburg-landdroshof verskyn. Die polisie ondersoek die motief vir die aanval.