Brekende Nuus
Nuus

Slagoffers in Witbank gered – 4 vas vir beweerde mensehandel

Foto: Ter illustrasie

MPUMALANGA. – Die polisie het Woensdag ses mense, onder wie drie minderjariges, by ’n adres in Witbank gered en vier verdagtes in hegtenis geneem tydens ’n ondersoek na beweerde mensehandel, ontvoering en poging tot moord. Die minderjariges is tussen 14 en 17 jaar oud. Al ses is na ’n plek van veiligheid geneem waar hulle ondersteuning ontvang.

Kol. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, sê die polisie het Dinsdag inligting oor moontlike mensehandel in Witbank gekry. Twee mans van Zimbabwe het na bewering meisies en jong vroue tussen 13 en 24 jaar oud werk as huiswerkers in Suid-Afrika belowe. Volgens die polisie is hulle met hul aankoms in Witbank glo aan ’n vrou oorhandig en daarna seksueel uitgebuit. Die polisie vermoed die vrou speel ’n sentrale rol in die beweerde mensehandel.

Polisiebeamptes is Woensdag omstreeks 08:00 na die adres waar die slagoffers glo aangehou is. Drie mans van 26, 34 en 39 jaar oud en ’n 46-jarige vrou is daar in hegtenis geneem. Hulle sal na verwagting binnekort in die eMalahleni-landdroshof voorkom.

Lt.genl. Apaphia Modise, Mpumalanga se polisiekommissaris, het die span vir die redding geprys. Sy het gesê die saak wys hoe kinders en vroue steeds uitgebuit word terwyl die veldtog van 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders aan die gang is.