KWAZULU-NATAL. – Die departement van bosbou, visserye en die omgewing het ‘n opleidingsprogram vir aanklaers, polisiespeurders en lede van die Coastal Marine Task Force in Scottburgh van stapel gestuur. Dit is gedoen om die bekamping van omgewingsmisdaad en die beskerming van Suid-Afrika se mariene hulpbronne te versterk.
Narend Singh, adjunkminister van dié departement, sê die opleiding is daarop gemik om samewerking tussen ondersoekbeamptes, aanklaers en ander wetstoepassers te verbeter sodat omgewingsmisdade doeltreffender ondersoek en suksesvol vervolg kan word. Volgens hom is ‘n geïntegreerde benadering noodsaaklik om onwettige vissery, stropery en ander misdade teen natuurlike hulpbronne hok te slaan. Hy het daarop gewys dat die onwettige verkoop van kreef langs die N2 naby Hibberdene weer die omvang van georganiseerde omgewingsmisdaad beklemtoon. Volgens Singh vorm sulke oortredings deel van ‘n groter kriminele netwerk wat die onwettige oes, berging, vervoer en verkoop van mariene hulpbronne insluit.
Singh het die werk van die visserybeheerbeamptes, omgewingsbestuursinspekteurs, die polisie, die nasionale vervolgingsgesag en Coastal Marine Task Force geloof. Hy sê gesamentlike operasies tussen April en Junie vanjaar het ses strafsake opgelewer, nege verdagtes is in hegtenis geneem en 22 boetes van R42 000 is uitgereik. Daarbenewens is 352 lynvisse ter waarde van R176 000, Ooskus-kreef ter waarde van R31 500 en 47 onwettige kiefnette ter waarde van R21 150 gekonfiskeer.
Volgens Singh is arrestasies alleen egter nie genoeg nie en moet die fokus ook op suksesvolle vervolgings en gepaste vonnisse val. Hy het deelnemers aangemoedig om die opleiding te gebruik om ondersoeke, bewysbestuur en samewerking tussen wetstoepassers verder te verbeter.





