Brekende Nuus
Nuus

Aanlyn speletjie help tiener en ma om vermiste meisie te red

Foto: Ter illustrasie

VSA. – ’n Gesprek tydens die aanlynspeletjie Among Us het gehelp om ’n 17-jarige meisie op te spoor wat reeds 17 maande vermis was. Landon Tresp (16) van Colorado het sy ma, Khristina, om hulp gevra nadat die meisie vir hom vertel het dat ’n man haar teen haar wil aanhou. 

Die polisie het haar op 1 November in Huntington, Oregon, na veiligheid geneem. Sy was 15 toe sy in Mei 2025 uit Garden City, Utah, vermis geraak het.

Khristina Tresp het aan KOAA News5 gesê sy het op 31 Oktober met die meisie op Discord begin praat. Die meisie het geweet in watter deel van Oregon sy was, maar het nie die adres geken nie. Khristina het eiendomsrekords en foto’s van huise deurgegaan totdat die meisie die huis op een van die foto’s herken het. Sy het die volgende oggend die meisie se ma gekontak en kort daarna ’n oproep van die FBI gekry. 

Khristina het op ’n video-oproep met die meisie gebly terwyl beamptes die huis genader het. Toe dit tyd was om uit te kom, het sy die meisie aangesê om met die keldertrap op en by die voordeur uit te hardloop. ’n Staats­polisiebeampte het haar buite ingewag. Landon het langs sy ma gesit terwyl dit gebeur het.

Die Amerikaanse departement van justisie sê Adam Hunter Harmel (39) staan tereg op ’n federale aanklag dat hy die minderjarige ontvoer het met die opset om seksuele dade met haar te pleeg. Hy het op 4 November die eerste keer in ’n federale hof in Boise, Idaho, verskyn.

Bronne: koaa.com, United States Department of Justice, BBC, Wrld