WES-KAAP. – Die uitvoerende burgemeester van Mosselbaai, Dirk Kotzé, het die voorlopige opskorting van die implementering van die Wet op Administratiewe Beregtiging van Padverkeersoortredings (Aarto) in die Wes-Kaap verwelkom en dit toegeskryf aan samewerking tussen DA-beheerde munisipaliteite.
Kotzé sê die besluit volg ná volgehoue insette en kommer wat oor ’n tydperk aan onder meer pres. Cyril Ramaphosa en Barbara Creecy, die minister van vervoer, oorgedra is. Hy het veral administratiewe tekortkominge en onsekerheid oor regulasies uitgelig. In sy jongste skrywe, gedateer 21 Mei, het Kotzé beklemtoon dat die wysigingswet op die Nasionale Padverkeerswet nog nie in werking is nie en dat die nodige regulasies steeds uitstaande is. Hy het ook gewys op prosedurele en departementele probleme wat die implementering van Aarto bemoeilik.
Die tweede fase van Aarto sou aanvanklik op 1 Julie 2026 in werking tree, maar volgens die jongste verwikkelinge sal munisipaliteite in die Wes-Kaap, insluitend Kaapstad, nie meer teen dié sperdatum die stelsel hoef te implementeer nie.
Lees meer hier onder:
𝐀𝐀𝐑𝐓𝐎 𝐢𝐧 𝐖𝐞𝐬-𝐊𝐚𝐚𝐩 𝐯𝐨𝐨𝐫𝐥𝐨𝐩𝐢𝐠 𝐨𝐩𝐠𝐞𝐡𝐞𝐟 𝐧á 𝐬𝐚𝐦𝐞𝐰𝐞𝐫𝐤𝐢𝐧𝐠
As Burgemeester van Mosselbaai verwelkom ek die voorlopige opskorting van die implementering van die Wet op die Administratiewe Beregting van Padverkeersmisdrywe (AARTO) in die Wes-Kaap. Hierdie uitkoms is vir my ’n bewys van die sterk samewerking en saamstaan tussen munisipaliteite wat deur die Demokratiese Alliansie bestuur word.
Ek het oor die afgelope jare herhaaldelik my kommer oor die implementering van hierdie wet aan President Cyril Ramaphosa en die Minister van Vervoer, Barbara Creecy, oorgedra. In my skrywes het ek veral die administratiewe tekortkominge en die onsekerhede rondom die regulasies uitgelig.
In my mees onlangse brief van 21 Mei het ek beklemtoon dat die Wysigingswet op die Nasionale Padverkeerswet (Wet 8 van 2024) nog nie in werking getree het nie, en dat die nodige regulasies steeds ontbreek. Ek het ook gewys op prosedurele en inhoudelike teenstrydighede wat die implementering bemoeilik.
Die tweede fase van AARTO was aanvanklik beplan vir 1 Julie 2026. Volgens berigte sal munisipaliteite in die Wes-Kaap, insluitend die Stad Kaapstad, egter nie teen daardie datum die stelsel hoef te implementeer nie, terwyl ander dele van die land wel voortgaan.
Minister Creecy het in ’n brief aan Kaapstad se Burgemeester, Geordin Hill-Lewis, bevestig dat onderhandelinge tussen die stad en die Padverkeersoortredingsagentskap (RTIA) nog nie afgehandel is nie. Dit beteken dat die tydlyn vir die derde fase, wat die demerietpuntstelsel insluit en vir 1 Januarie 2027 beplan is, steeds onseker bly.
Die finale implementeringsdatums is nog nie amptelik afgekondig nie en kan steeds verander. Ek sal aanhou om namens Mosselbaai en die Wes-Kaap te pleit vir duidelikheid, regverdigheid en behoorlike administrasie in hierdie proses, sodat die belange van ons inwoners beskerm word.







