GAUTENG. – Die adjunkhoof van Hoër Tegniese Skool Dinoto in Daveyton, Ekurhuleni, is vanoggend (7 November) geskiet toe hy die skoolterrein betree het. Hy is gewond en onmiddellik na ’n nabygeleë hospitaal geneem waar hy tans mediese behandeling ontvang.
Steve Mabona van die Gautengse departement van onderwys (GDO), sê in ‘n verklaring die polisie ondersoek die skietvoorval. Terselfdertyd is sielkundige ondersteuningspanne van die Ekurhuleni Noord-distrik na die skool ontplooi om onderwysers, leerlinge en personeel te ondersteun wat moontlik deur die gebeurtenis getraumatiseer is. Die skool gaan steeds voort met die matriekeksamen, met toesig, om te verseker leerlinge is veilig is die eksamen word so min moontlik ontwrig.
Matome Chiloane, die LUR vir GDO, sê die departement veroordeel die geweld en wens die adjunkhoof ’n vinnige herstel toe. Hy het ook gesê wetstoepassers moet sorg dat die verantwoordelikes spoedig voor die gereg gebring word.




