OOS-KAAP. – Vuyokazi Gana (52), die adjunkhoof van ’n laerskool, is vandag (Maandag) deur die Oos-Londen-landdroshof borgtog geweier. Gana is op 15 Oktober op aanklagte van mensehandel en prostitusie, wat jong vroue uit die voormalige Transkei betrek het, in hegtenis geneem.
AO Ndiphiwe Mhlakuvana, Valke-woordvoerder, sê volgens inligting van September 2023 het Gana glo jong vroue uit Qumbu, Mthatha en Ngqeleni gewerf en hulle na Oos-Londen geneem. Hulle is glo by haar woning gehuisves en gedwing om aan prostitusie deel te neem. Die voorlopige ondersoek het aan die lig gebring dat die jong vroue glo seksuele dienste aan verskeie kliënte gelewer het en dat Gana daaruit voordeel getrek het deur sogenaamde verblyffooie.
’n Lasbrief vir haar inhegtenisneming is uitgereik, waarna Gana tydens ’n beplande operasie in Oos-Londen in hegtenis geneem is. Sy staan tereg op aanklagte van mensehandel, seksuele uitbuiting en die bedryf van ’n onwettige bordeel.
Gana het verskeie hofverskynings gemaak in ’n poging om borgtog te verkry, maar haar aansoek is telkens afgekeur. Die saak is vir verdere ondersoek tot 28 November uitgestel, terwyl Gana in aanhouding bly.





