GAUTENG. – Tot 1 200 poste en 90 takke van African Bank kan in die slag bly as deel van ’n voorgestelde herstrukturering.
Die bank het met die Suid-Afrikaanse Vereniging van Bankamptenare (Sasbo) konsultasies ingevolge artikel 189A van die Wet op Arbeidsverhoudinge begin. Die proses kan tot 1 200 werksverliese en die sluiting van tot 90 takke lei. African Bank sê die moontlike afleggings is die gevolg van die bank se huidige finansiële omstandighede en pogings om koste te verminder. Die bank het ’n netto verlies van R624 miljoen vir die ses maande tot einde Maart 2026 aangemeld.
Die bank se waarnemende uitvoerende hoof, Zweli Manyathi, sê die proses is nodig vir die bank se toekomstige volhoubaarheid. African Bank beklemtoon intussen dat hy bo die minimum regulatoriese kapitaalvereistes gekapitaliseer is en oor voldoende likiditeit beskik.
Vakbondfederasie Cosatu het gesê hy sal Sasbo ondersteun in pogings om die poste te beskerm. Die konsultasieproses is nog aan die gang en die moontlike werksverliese en taksluitings is dus nie finale besluite nie.
Bronne: African Bank, The Citizen, TimesLIVE, BusinessDay, SABC News
African Bank, werksverliese, afleggings, Sasbo, Cosatu, banke, herstrukturering, Suid-Afrikaanse ekonomie





