GAUTENG. – AfriForum was gister in die Johannesburg-hooggeregshof om die Johannesburgse metro se omstrede 65,6%-verhoging in die wateraanvraagbestuursheffing te beveg. Die organisasie se dringende aansoek om die verhoging te laat hersien en tersyde te stel, is aangehoor enkele dae voordat die nuwe begroting, en daarmee die heffing, op 1 Julie in werking tree.
Volgens AfriForum is die saak dringend juis omdat inwoners reeds vanaf 1 Julie sou moes betaal sonder dat die wetlikheid van die heffing eers deur ‘n hof beoordeel is. Die organisasie meen dit sal inwoners onnodig benadeel en allerhande praktiese probleme skep wat vermy kon word.
AfriForum se raadgewer vir omgewingsake, Marais de Vaal, sê die organisasie sou verkies om nie hof toe te gaan nie en het maande lank probeer om die metro te oortuig om meer inligting te deel en in gesprek te tree. Die metro het egter telkens geweier om werklik daarop te reageer, wat AfriForum hom uiteindelik na die hof laat wend het.
Die organisasie vra die hof om die heffing ongeldig te verklaar omdat die metro nie aan sy wetlike verpligtinge tydens die begrotingsproses voldoen het nie. De Vaal sê hulle hoop die hof sal beslis dat munisipaliteite deursigtig en verantwoordbaar moet optree, en dat inwoners nie sommer ‘n groot nuwe heffing moet aanvaar sonder dat daar verduidelik word hoe dit bereken is of waarom dit nodig is nie.
AfriForum verwag die metro sal terugveg deur te beweer die saak is nie dringend nie en die heffing is wel regmatig, argumente wat nou aan die hof oorgelaat word om te beslis. Die organisasie sal verdere inligting deel sodra dit beskikbaar is.
Druk hier om meer te lees.





