GAUTENG. – Altsaam agt seunsleerlinge van Khomani-laerskool in Diepkloof, Soweto, is na bewering op 1 September eers deur ‘n gr. 7-leerling bedwelm, voordat hulle deur ‘n volwassene verkrag is.
Steve Mabona, GDO-woordvoerder, sê in ‘n verklaring die LUR vir onderwys, Matome Chiloane, het die onstellende voorval veroordeel. Die gr. 7-leerling het volgens rapportering ’n bottel koeldrank gesteel, ‘n dwelmmiddel daarin geplaas en aan die slagoffers gegee om te drink. Hulle is glo daarna na die volwassene geneem, waarna hulle met ‘n vuurwapen gedreig en verkrag is.
Die volwassene is reeds in hegtenis geneem. Die gr. 7-leerling is geskors en sal op 17 September ’n dissiplinêre verhoor hê.
Die departement het met behulp van die Teddy Bear Clinic sielkundige ondersteuning aan die leerlinge en gesinne beskikbaar gestel. Chiloane sê die voorval beklemtoon die noodsaaklikheid van ouers se betrokkenheid by die veiligheid van kinders in en buite die skool. Die voorval is eers op 8 September deur een van die slagoffers se ouers by die skool aangemeld.
Die ondersoek duur voort.