GAUTENG. – ’n Gr. 8-meisieleerling van Hoërskool Qalabotjha in Vlakfontein, Johannesburg-Suid, is Dinsdag dood nadat sy by die skool ineengestort het.
Steve Mabona, GDO-woordvoerder, sê in ‘n verklaring die skool het dadelik die meisie se ouers en nooddienste ontbied. Die meisie het egter voor die aankoms van mediese hulp gesterf en is dood verklaar. Die oorledene laat ‘n broer en suster, wat tans onderskeidelik in gr. 10 en 12 by dieselfde skool is, agter.
Haar medeleerlinge het tydens die voorval eksamen in besigheidstudie geskryf en het sedertien die nodige akademiese ondersteuning ontvang. Die departement sal sielkundige ondersteuningspanne na die skool ontplooi om leerlinge, personeel en die familie by te staan in die hantering van hierdie skielike en tragiese verlies.
Mabona sê voorts die LUR, Matome Chiloane, is diep bedroef oor die onverwagte afsterwe. “Ons is verskriklik bedroef oor die verlies van een van ons leerlinge. Geen ouer, broer, suster of skoolgemeenskap behoort so ’n tragedie te ervaar nie. Ons dink veral aan haar broer en suster wat ook leerlinge by die skool is.”





