WAARSKUWING – Die video in die berig kan sommige lesers ontstel.
KWAZULU-NATAL. – ‘n Seun (8) veg om sy lewe nadat hy en sy pa Sondagmiddag deur twee honde in die Sunford-gebied in Phoenix aangeval is.
Volgens KZN VIP Emergency Medical Services het die seun saam met sy pa in Bramford geloop toe twee honde van ’n nabygeleë eiendom uitgekom en op hulle afgestorm het. Die seun het volgens die nooddienste agter sy pa probeer skuil, maar die honde het voortgegaan om hom aan te val. Sy pa het probeer om die honde weg te kry en sy seun te beskerm, maar het self verskeie bytplekke opgedoen. Die seun het lewensgevaarlike beserings in die proses opgedoen.
KZN VIP-nooddienspersoneel het albei beseerdes op die toneel gestabiliseer voordat hulle na ‘n hospitaal vervoer is. Later dieselfde aand is paramedici weer na die hospitaal ontbied nadat die seun se toestand verdere dringende behandeling en lewensreddende chirurgie vereis het. Hy is daarna vir verdere behandeling onder mediese toesig na ’n spesialishospitaal oorgeplaas. In die video kan gesien word hoe ‘n hond ook ander omstanders aanval.
KZN VIP Emergency Medical Services het intussen ’n beroep op troeteldiereienaars gedoen om seker te maak dat hul honde nie uit hul eiendomme kan ontsnap nie.