NAMIBIë. – Al 96 stappers wat sedert Sondag in die Visrivier-canyon in Namibië vasgekeer was nadat damme oorgeloop en watervlakke gevaarlik gestyg het, is veilig gered.
Die stappers, insluitend skoolleerlinge, van nege verskillende groepe, is deur Namibia Wildlife Resorts (NWR) gered nadat swaar reën die Naute-dam oor sy kapasiteit laat loop het. Dit het NamWater gedwing om die dam se sluise te open, wat tot gevaarlike, vinnig-stygende watervlakke laer af in die canyon gelei het.
Volgens Marius Katamila, polisiekommissaris, is die reddingsoperasie suksesvol afgehandel, met die laaste 28 stappers wat met ‘n helikopter uitgevlieg is. Katamila het verduidelik dat 10 stappers Sondag self uit die canyon geloop het, terwyl ‘n verdere 18 gister self by uittreepunte uitgekom het. ‘n Helikopter is Sondag vanaf Windhoek gestuur om die reddingspoging te versterk.
Die NWR het gesê reënval in die Hardap- en ||Kharas-streke oor die naweek het die Naute-dam se vlak tot 116.9% van sy stoorkapasiteit gestoot. Daarbenewens het die nabygeleë Neckartal-dam 105.7% kapasiteit bereik en het groot volumes water in die canyon begin oorloop. Die reën het ook hernieude vloei na ander riviere gebring, insluitend die Tsondab- en Holoog-riviere.
Alhoewel effens getraumatiseer, is geen beserings onder die stappers aangemeld nie. Die roete is tans gesluit.
Bronne: allafrica.com, namibian.com.na, NWR Facebook





