Alison Botha: ‘Verkrag, gesteek, ontwei, en feitlik onthoof, maar ek lewe’

Lees ook :

"Ek het besef my lewe is te waardevol om te laat gaan." Botha inspireer ander met hoe sy na die wrede dade gekies het om te lewe.
"Ek het besef my lewe is te waardevol om te laat gaan." Botha inspireer ander met hoe sy na die wrede dade gekies het om te lewe. (Foto: George Herals)

SUID-AFRIKA. – Alison Botha is op 18 Desember 1994 ontvoer naby haar woonstel in Port Elizabeth. Sy was 27 jaar oud toe sy deur haar twee verkragters vir dood gelos is. “Ek het besef my lewe is te waardevol om te laat gaan.” Botha inspireer tot vandag toe ander met hoe sy na die wrede dade gekies het om te lewe.

Volgens All thats interesting het Botha na ‘n kuier saam met haar vriende een van hulle huis toe geneem. Toe sy terugkeer na haar woonstel het sy haar motor parkeer. Sy het vooroorgebuig om haar skoon wasgoed aan die passasierskant op die vloer te kry. Sy het warm lug agter haar gevoel toe ‘n deur van haar motor oopgemaak word. ‘n Man met ‘n mes het gesê sy moet oorskuif of hy maak haar dood.

Die man, Frans du Toit, het homself as Clinton aan haar voorgestel en het gesê hy wil haar nie seermaak nie, maar wil haar motor vir ‘n uur gebruik. Hy het sy vriend Theuns Kruger gaan oplaai. Die mans het Botha na ‘n afgeleë gebied net buite die stad geneem. Koud en beangs, het Botha geweet iets aaklig sou met haar gebeur.

Hulle het Botha probeer versmoor, maar sy het nog geleef

Du Toit en Kruger het vir Botha gesê hulle gaan seks hê met haar. Toe hulle haar vra of sy daarteen gaan baklei, het sy vreesbevange nee geantwoord.” Nadat beide mans, wat albei ‘n geskiedenis van geweld teen vroue gehad het, haar verkrag het, het hulle haar probeer versmoor en alhoewel sy haar bewussyn verloor het, het sy steeds bly leef.

Die mans het selfs meer gewelddadig geraak en het haar 30 keer in haar buik gesteek. Botha het later onthou Du Toit wou spesifiek haar voortplantingsorgane vermink. Op een of ander wonderbaarlike manier het die aanvallers daardie spesifieke dele van haar liggaam gemis en was dit later vir haar moontlik om geboorte aan twee seuns te skenk.

Botha se keel is 16 keer gesny, maar sy het oorleef

Haar been het geruk en Du Toit en Kruger het besluit aangesien sy nog lewe, hulle werk nog nie klaar was nie. Haar keel is 16 keer gesny. “Al wat ek kon sien, was ‘n arm wat bokant my gesig beweeg. Links en regs en links en regs. Die bewegings het ‘n geluid gemaak. ‘n Nat geluid, dit was die geluid van my vlees wat oopgesny word. Hy het my keel afgesny met die mes. Weer en weer en weer. ”

“Dit het onwerklik gevoel, maar dit was nie,” het sy gesê. “Ek het geen pyn gevoel nie, maar dit was nie ‘n droom nie. Dit het gebeur. Die man het my keel afgesny.”

Toe die mans uiteindelik terugstaan, kon sy hoor hoe die een vir die ander vra of hy dink dat sy dood is. Waarop die ander een geantwoord het dat niemand daardie sou kon oorleef nie.

Sy het nog asem gehaal toe hul wegry

Terwyl Botha op ‘n hoop sand en glasstukke gelê het, het sy besluit om leidrade van haar aanvallers te los. Sy het hulle name in die sand geskryf en onderaan: “Ek is lief vir Ma.”

Toe Botha ‘n motor se ligte sien, het sy besef dat sy nog ‘n kans tot oorlewing sou hê indien sy net tot by die pad kon kom.

Besef toe eers hoe ernstig haar beserings is

Sy het nader aan die pad probeer beweeg, maar haar kop het agtertoe geval, aangesien sy amper onthoof was. Met haar een hand moes sy haar kop in plek hou en met die ander moes sy haar ingewande binne haar buik probeer hou.

“Terwyl ek vorentoe gesukkel het, het my sig gekom en gegaan. Ek het baiekeer geval, maar kon weer opstaan tot ek uiteindelik die pad bereik het.”

Botha se lewe het aan ‘n draadjie gehang

Sy het op die wit streep van die pad gelê toe Tiaan Eilerd haar raaksien. Eilerd was ‘n student in veeartsenykunde wat op pad na vakansie in Port Elizabeth was. “God het my daardie aand om ‘n rede op daardie pad gesit,” het Eilerd gesê.

Hy het sy veeartsenykundige opleiding gebruik om Botha se ontblote skildklier in haar liggaam terug te druk. Toe het hy nooddienste gebel vir hulp.

Dokters was geskok oor die beserings wat Botha opgedoen het. Sy was op die rand van die dood. Maar sy het daarin geslaag om te bly lewe en sy het ook alles van haar aanvallers onthou. Sy kon die twee uitken op polisiefoto’s terwyl sy nog in die hospitaal was. Dit het gelei tot die vinnige arrestasie van die “Ripper-verkragters”, soos hulle in die pers genoem is.

Die daaropvolgende “Noordhoek Ripper-verhoor” het oral Suid-Afrikaners se aandag getrek. Beide Du Toit en Kruger het skuldig gepleit op agt aanklagte, wat ontvoering, verkragting en poging tot moord ingesluit het. Hulle is albei in Augustus 1995 skuldig bevind en tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Botha het gekies om te lewe

Alison Botha het gou die wêreld vol begin reis en haar verhaal in minstens 35 lande vertel.

Sy was een van die eerste vroue uit Suid-Afrika wat in die openbaar in beide haar tuisland en in die buiteland oor verkragting gepraat het. Sy het gehelp om ander oorlewendes te inspireer om na vore te kom en ook hul verhale te vertel.

“Die aanval het my op hierdie pad gebring waar ek die wêreld kan deurreis en ander mense kan help inspireer,” het Botha gesê.

In 1995 het Botha die gesogte Rotarian Paul Harris-toekenning gewen vir die “Courage Beyond the Norm” en die tydskrif Femina se “Woman of Courage”-toekenning. Sy is ook Port Elizabeth se die burger van die jaar vereer. Marianne Thamm het ‘n boek oor Alison se wedervaringe geskryf: I have life: Alison’s journey. ‘n Fliek, Alison, is ook oor haar verskriklike ontberings en oorwinning oor haar aanvallers gemaak.

Selfs tot vandag is hierdie dapper vrou se storie van oorlewing ‘n inspirasie. Sy het eenkeer gesê: “Die lewe kan ons soms soos ‘n slagoffer laat voel. Onthou dat jy nie verantwoordelik hoef te voel vir wat ander aan jou doen nie. Die lewe is nie ‘n versameling van dinge wat met jou gebeur nie, maar wat tel, is hoe jy reageer op wat met jou gebeur.”

Lees ook: Die belangrikheid van media – want as ons jou nie sê nie, wie sal?

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief