‘n Onlangse advertensieveldtog van die klerehandelsmerk American Eagle, met aktrise Sydney Sweeney in die hoofrol, het hewige debat ontlok. Die veldtog, wat oorspronklik op sosiale media gedeel is, het spoedig aandag getrek vir sy taalgebruik en visuele aanbieding.
In die video, wat intussen van American Eagle se amptelike platforms verwyder is, sê Sweeney:
“Genes are passed down from parents to offspring, often determining traits like hair color, personality and even eye color. My jeans are blue.”
(“Gene word van ouers na kinders oorgedra en bepaal dikwels eienskappe soos haarkleur, persoonlikheid en selfs oogkleur. My jeans is blou.”)
Hoewel die video nie meer op die maatskappy se kanale beskikbaar is nie, word dit steeds aanlyn versprei.
Kyk die video hier:
Sydney Sweeney x American Eagle, oh my god. pic.twitter.com/tDkeGT9R7G
— Sydney Sweeney Daily (@sweeneydailyx) July 24, 2025
Kritici het beswaar gemaak teen die gebruik van genetiese verwysings in ‘n kommersiële konteks. Sommige meningsvormers op sosiale media het beweer dat die advertensie ondertone van eugenetika bevat — ’n diskwalifiseerde wetenskaplike teorie wat in die verlede gebruik is om rassistiese ideologieë te regverdig.
Daar is ook kritiek uitgespreek oor die seksuele aard van die veldtog. Verskeie gebruikers het opgemerk dat die kamera gereeld op Sweeney se liggaam fokus, eerder as op die produk of die boodskap rakende bewusmaking oor huishoudelike geweld. In ander snitte uit die veldtog maak Sweeney tong-in-die-kies opmerkings oor die jeans en spreek sy die kamera se fokus op haar borskas aan.
Volgens American Eagle is die veldtog gemik op bewusmaking oor huishoudelike geweld, ‘n saak waaroor Sweeney haar voorheen uitgespreek het. Die handelsmerk het bevestig dat 100% van die verkoopsprys van die jeans geskenk sal word aan Crisis Text Line, ‘n organisasie wat geestesgesondheidsondersteuning bied.
Tydsberekening en konteks
Die veldtog is bekendgestel tydens ‘n tyd van verhoogde sensitiwiteit in die VSA rondom kwessies van diversiteit, immigrasie en geslagsverteenwoordiging. Kritici het daarop gewys dat die gebruik van genetiese bewoording, selfs as woordspeling, in die huidige politieke klimaat potensieel verkeerd gelees kan word.
Die veldtog het ook reaksie uitgelok weens die kombinasie van aktivisme en kommersialisering, veral gegewe die onderwerp van huishoudelike geweld.
American Eagle kap terug
Die maatskappy het Vrydag op sy Instagram teruggekap: “It is and always was about the jeans. Her jeans. Her story. We’ll continue to celebrate how everyone wears their AE jeans with confidence, their way. Great jeans look good on everyone.”
Amerikaanse president Donald Trump het Sweeney geprys vir haar rol in die veldtog en die aandeleprys van American Eagle het ná die inskrywing die hoogte ingeskiet. Hy het gesê sy is ‘n geregistreerde Republikein. “Sydney Sweeney, a registered Republican, has the ‘HOTTEST’ ad out there. It’s for American Eagle, and the jeans are ‘flying off the shelves.’ Go get ‘em Sydney!” Terwyl hy terselfdertyd verskeie ander handelsmerke en bekendes gekritiseer het oor hul sogenaamde “woke”-benadering tot bemarking.