GAUTENG. – Helder Isidro (36) van Eersterust, wat vir die moord op Loveness Magabe (30) en regsverydeling teregstaan, het sy borgtogaansoek in die Pretoria-landdroshof laat vaar.
Lumka Mahanjana, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring volgens bewerings het die beskuldigde en die oorledene mekaar op ’n Facebook-afspraakwebwerf ontmoet en daarna via WhatsApp gekommunikeer. Hulle het gereël om op 26 Julie by ’n lodge op Eersterust te ontmoet. Die beskuldigde het na bewering ’n Uber gereël om Magabe van Sunnyside na die ontmoetingsplek te neem.
Die bestemming was egter nie ’n lodge soos ooreengekom nie, maar die beskuldigde se woning. Magabe het voor hul ontmoeting vir ’n vriendin ’n boodskap en haar pin-ligging gestuur en genoem dat die plek verdag lyk. Toe sy nie op 27 Julie huis toe keer nie, het haar vriendin ’n vermiste-persoon-saak by die Sunnyside-polisiekantoor geopen.
Na ’n intensiewe polisieondersoek is Magabe se liggaam op 31 Julie in ’n vlak graf by die beskuldigde se woning in Eersterust gevind. Isidro is op 4 Augustus by sy ouma se huis in Limpopo in hegtenis geneem.
Die saak is vir verdere ondersoek tot 15 Oktober uitgestel. In ’n aparte saak staan Isidro ook tereg op ’n verkragtingsklag en sal op dieselfde datum in die hof verskyn.
Lees ook meer hier:





