KWAZULU-NATAL. – ‘n Man (32) is op aanklag van handel in dagga in Dundee in hegtenis geneem, nadat die polisie 90 sakke saamgeperste dagga met ‘n straatwaarde van R4 m. in sy voertuig gevind het.
Konst. Thenjiswa Ngcobo, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring die polisie het ‘n wenk ontvang van ‘n voertuig wat dagga vanaf Eswatini, deur Paulpietersburg-grenspos, na Suid-Afrika smokkel. Beamptes van die Glencoe-honde-eenheid, Zululand-distriktaakspan en Dundee-misdaadvoorkoming het die voertuig op die R33 opgemerk en probeer stop, maar die bestuurder het weggejaag. Die polisie het die voertuig ná ’n jaagtog in Dundee gestop.
Tydens die deursoeking is saamgeperste dagga op die passasiersitplek, agtersitplek en in die kattebak van die voertuig gevind. Daar is op die dagga beslag gelê.
Die verdagte is in hegtenis geneem en het Woensdag in die Dundee-landdroshof verskyn.





