WES-KAAP. – ‘n Amerikaanse man (37) is op die laaste dag van sy vakansie in Kaapstad in die see by Diaz-strand by Kaappunt vermis.
Craig Lambinon, NSRI-woordvoerder, sê luidens ‘n verklaring deur Darren Zimmerman, Simonstad NSRI-stasiebevelvoerder, is verskeie reddingspanne kort ná 18:00 op see en langs die kus ontplooi op soek na ‘n persoon wat besig was om te verdrink.
Volgens inligting het die familie die strand besoek, waartydens die man en ’n familielid gaan swem het. Die familielid, ’n brandweerman van die VSA, het egter gou besef hoe sterk die seestrome is en het voorgestel dat hulle uit die water gaan. Terwyl hulle glo in vlak water was en probeer terugbeweeg het na die strand, is die man van sy voete geruk en deur ’n sterk trekstroom meegesleur voordat hy in die see verdwyn het.
Die soektog het tot ná donker voortgeduur, maar geen spoor van die drenkeling is gevind nie. Die polisie se waterpolisie- en duikeenheid se soektog na die man duur voort. Reddingspanne het hul medelye met die familie uitgespreek.
Op SANParke webtuiste word swem op Diazstrand weens sterk seestrome nie toegelaat nie.





