GAUTENG. – ’n Vier maande oue baba se liggaam is Woensdag in ’n vlak graf naby die Hennopsrivier gevind, nadat die baba se 43-jarige ma na bewering deur ’n man wat sy as haar pastoor geken het, verkrag en vasgebind is. Die polisie soek na die pastoor in verband met die voorval, wat volgens voorlopige inligting tydens ’n godsdienstige ritueel plaasgevind het.
Kol. Dimakatso Nevhuhulwi, polisiewoordvoerder, sê die vrou het die Hennopsrivier naby die R511 saam met die pastoor en sy vrou besoek. Sy 24-jarige vrou het na bewering by die baba agtergebly terwyl die hy en die ma na die rivier beweeg het. Die ma kon haarself bevry en hulp by ’n nabygeleë konstruksieterrein kry, waarna ’n private veiligheidsmaatskappy ontbied en die polisie in kennis gestel is. ’n Multidissiplinêre span is ontplooi om na die baba te soek. Die pastoor se vrou is later opgespoor en het die ondersoekspan na die vlak graf gelei waar die baba se liggaam gevind is. Die polisie ondersoek sake van ontvoering, verkragting en moord, terwyl die soektog na die pastoor voortduur.
Ian Cameron, parlementêre voorsitter van die portefeuljekomitee oor polisie, het intussen op sosiale media gevra dat die nasionale register vir seksoortreders vir die publiek toeganklik gemaak word. Hy het daarop gewys dat dit nog nie bekend is of die verdagte vorige veroordelings het nie.
