GAUTENG. – Thabang Eugene Sohole (41) en Michael Makampe (42), wat as beskermers van die burgemeester van die Madibeng- plaaslike munisipaliteit aangestel is, is Vrydag deur die Pretoria-landdroshof op borgtog van R20 000 vrygelaat. Hulle word aangekla van die moord op die lugmagsersant, Michael Swanton, asook regsverydeling en die onwettige gebruik van blou identifikasieligte op ‘n ongematigde voertuig.
Volgens ‘n verklaring van Lumka Mahanjana, NVG-woordvoerder, voer die staat aan dat die voorval op 28 Januarie omstreeks 20:00 plaasgevind het toe die oorledene en sy vrou, albei lede van die Suid-Afrikaanse nasionale weermag, in Eskia Mphahlele-rylaan in die rigting van die R80 gery het. ’n Donkerkleurige BMW-sportnutsvoertuig met flitsende blou ligte wou hulle glo voorkeer.
Die egpaar het daarna op die R80 in die rigting van Mabopane gery, waar hulle na bewering gedwing is om langs die pad stil te hou. Daar word beweer dat Sohole en Makampe uit die BMW geklim het, een van hulle gewapen met ’n R5-geweer. Hulle het die egpaar oor ’n vermiste agternommerplaat ondervra voordat hulle na hul voertuig teruggekeer het. Die oorledene, wat in die passasiersitplek gesit het terwyl sy vrou bestuur het, het glo agter hulle aangeloop om hul identifikasie te verifieer en vas te stel of hulle wel polisielede met die nodige magtiging was. Terwyl hy die BMW genader het, is hy na bewering in die kop geskiet en hy het op die toneel gesterf.
Enkele ure later het die twee beskuldigdes hulle by die Hercules-polisiestasie oorgegee. Hulle het aangevoer dat hulle slagoffers van ’n poging tot kaping was en dat ’n skietvoorval op die R80 plaasgevind het.
Chris Maruma, staatsaanklaer, het in die hof borgtog teengestaan en aangevoer dat die beskuldigdes moontlik staatsgetuies kan beïnvloed of met die ondersoek kan inmeng. Landdros Mphahlele het egter bevind dat daar uitsonderlike omstandighede bestaan wat hul vrylating op borg regverdig. As deel van die borgvoorwaardes mag die twee beskuldigdes nie direk of indirek met staatsgetuies kontak maak nie.
Die saak is vir verdere ondersoek tot 9 April uitgestel.
Ian Cameron, die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie, het Woensdag in ‘n sosialemediaplasing gesê nuwe inligting oor die moord wek ernstige kommer oor die wetlikheid van die twee beskuldigdes se optrede. Volgens Cameron is albei by PSIRA geregistreer, maar hul status word as “onaktief” aangedui, sonder enige verklaarde werkgewer. “Óf hulle was in diens en is onwettig nie verklaar nie, óf hulle was nie in diens nie en het geen wettige grondslag gehad om gewapen op te tree, burgerlikes voor te keer of blou ligte te gebruik nie,” het hy gesê.
Cameron sê daar is geen aanduiding dat hulle wetstoepassers of verkeersbeamptes van die Madibeng-munisipaliteit is nie. Hy meen die omstandighede – insluitend bewerings dat hulle ná die skietvoorval van voertuig verwissel en eers later by die SAPD aangemeld het – dui op moontlike sistemiese magsmisbruik.





