MALAWI. – Minstens nege mense is op die vlug nadat hulle betrap is waar hulle houtskool in ’n lykswa smokkel as deel van ’n vals begrafnisstoet.
Volgens wat The Independent berig, het bosboubeamptes op ’n wenk gereageer en die sogenaamde begrafnisstoet by ’n padblokkade sowat 40 kilometer suid van Blantyre voorgekeer.
Met ’n deursoeking van die lykswa is ’n leë kis ontdek, met ongeveer 30 groot sakke houtskool daaronder. Die verdagtes is kortstondig in hegtenis geneem, maar het later uit aanhouding ontsnap en die gekonfiskeerde lykswa agtergelaat.
Owerhede in Malawi sê houtskoolsmokkelary is algemeen in die land en is een van die hoofredes vir wydverspreide ontbossing. Hoewel die onwettige handel niks nuuts is nie, het beamptes aangedui dat dié metode van vervoer – met ’n vervalste begrafnisstoet – ongekend is.
’n Soektog na die voortvlugtiges is aan die gang.
Bronne: The Independent, SABC News





