VRYSTAAT. – ‘n Bejaarde boervrou (72) van die Bultfontein-omgewing is Vrydag op haar plaas aangeval en ontvoer. ‘n Voormalige werknemer (33) het haar glo met ‘n tuingraaf geslaan en bewusteloos gelaat. Sy is Saterdagoggend steeds bewusteloos in haar verlate voertuig aangetref.
Luidens ‘n verklaring van sers. Mahlomola Kareli het die polisie tussen Vrydagmiddag en Saterdag die twee verdagtes in hegtenis geneem. Die slagoffer is deur die verdagtes in haar eie voertuig na ’n afgeleë plek op die plaaspad tussen Bultfontein en Hoopstad geneem, waar sy in die voertuig gelos is.
’n Polisielid het vroeg Saterdagoggend ’n stilstaande voertuig opgemerk en later, toe dit nog op dieselfde plek was, ondersoek ingestel en die bewustelose vrou binne-in gevind. Die polisie en nooddienste is ontbied en die slagoffer is vir behandeling na ’n nabygeleë hospitaal geneem en later ontslaan.
Kareli sê die hoofverdagte en voormalige werknemer is in hegtenis geneem, terwyl ’n tweede man gearresteer is nadat hy in besit van eiendom van die slagoffer gevind is. Die twee verdagtes sal binnekort op aanklagte van huisroof, met verdere aanklagte wat na verwagting bygevoeg kan word, in die Bultfontein-landdroshof verskyn.





