MPUMALANGA. – Vier mans is in hegtenis geneem nadat ’n boer en sy bure vermeende veediewe op ’n plaas in Middelburg agternagesit en vasgetrek het. Vee met ’n geskatte waarde van R87 000 was by die voorval betrokke.
Volgens die SAPD het die boer Woensdag 28 Oktober omstreeks 02:40 wakker geword toe ’n werknemer hom waarsku dat mense besig is om die plaas se heining te knip.
Die twee het ondersoek ingestel en na bewering gesien hoe die verdagtes ses beeste deur die geknipte heining na nabygeleë bosse aanjaag.
Die boer het sy bure se hulp ontbied. Hulle het die verdagtes agternagesit en vier mans oorkant die pad, naby die bosse, vasgetrek.
’n Maroen Mazda Thunder-stasiewa, wat vermoedelik tydens die voorval gebruik is, is ook op die toneel gevind. In die voertuig was ’n swart plastiekseil wat volgens die polisie moontlik gebruik sou word om vleis ná die slag van die diere toe te maak.
Die polisie het ook beesvelle met brandmerke, vleis en twee lewende kalwers naby die voertuig gevind.
Die verdagtes is geïdentifiseer as Vusi Mahlangu (42), Nkosinathi Vilakazi (37), Wiseman Mgidlana (42) en Thulani Nkosi (36).
Hulle het Donderdag 29 Oktober in die Middelburg-landdroshof verskyn. Borgtog is nie toegestaan nie en die saak is tot 5 November 2026 vir verdere ondersoek uitgestel. Al vier bly in aanhouding.
Lt.genl. Apaphia Modise, die provinsiale polisiekommissaris in Mpumalanga, het die boer en sy bure geloof vir hul samewerking met die polisie en omdat hulle nie die reg in eie hande geneem het nie.
Nuusflits het voorheen ook berig oor beweerde skaapdiefstal ter waarde van R151 000 by Steynsrus.
Bron: Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).