GAUTENG. – Ansie van der Walt (66) het Dinsdagoggend gesterf toe sy op die hoek van Ben Viljoen- en Rachel de Beerstraat in Pretoria-Noord deur ‘n Tshwane-bus getref is. Die polisiedossier sal vir beslissing aan die senior staatsaanklaer voorgelê word.
Kapt. Johan van Dyk, polisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits die bejaarde het onder die bus beland terwyl dit glo gedraai het. Sy is daarna sy op die toneel dood verklaar. ‘n Dossier vir strafbare manslag is geopen. ‘n Nadoodse ondersoek is reeds voltooi en die ondersoekbeampte is tans onder meer besig om getuieverklarings te neem. Wanneer die getuieverklarings in die dossier geliasseer is, sal dit aan die senior staatsaanklaer voorgelê word vir ‘n beslissing oor vervolging, al dan nie. Persone wat ooggetuies tot die ongeluk was, word gevra om na vore te kom.






