WES-KAAP. – ’n Beloning van tot R100 000 is uitgeloof vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming en vervolging van verdagtes, ná voortslepende taxiverwante moorde in Palmerstraat, Atlantis. ’n 14-jarige leerling in gr. 8 is in die jongste voorval dood.
Geordin Hill-Lewis, die burgemeester van Kaapstad, sê die besluit volg ná ’n skietvoorval buite Hoërskool Atlantis waar ’n volwasse man en ’n leerling doodgeskiet is. Hy het inwoners aangemoedig om anoniem met inligting na vore te kom.
‘n Gewapende man het ’n taxibestuurder genader terwyl hy besig was om kinders op te laai en die noidlottige skote geskiet. JP Smith, DA-burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit in die Stad Kaapstad, het die oproep om inligting ondersteun en gesê die stad se veiligheid- en sekuriteit-ondersoekeenheid sal bystand verleen. Druk hier om meer te lees.Anonieme wenke kan 24 uur per dag gegee word by 0800 00 6992 of per e-pos aan SSIMS.SSIUReporting@capetown.gov.za
Kapt. F.C. van Wyk, polisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits polisiebeamptes van Atlantis-polisiekantoor was kort voor 15:00 op die toneel. ‘n Wit Toyota Quantum-minibus is buite die skool aangetref, met die liggaam van ‘n man (42) daarbinne. Hy het verskeie skietwonde in sy rug en boud gehad. ’n Meisie (14) is binne die skoolterrein met skietwonde aan haar bors aangetref.
Die gemeenskap het die polisie meegedeel dat nog twee meisies, ’n 14- en ’n 16-jarige, ook gewond en na ’n hospitaal geneem is. ’n Onbekende man het glo lukraak die taxibestuurder en wagtende leerlinge begin skiet. Die polisie het twee sake van moord en twee van poging tot moord geregistreer. Die ondersoek sal deur die provinsiale speurders se eenheid vir taxigeweld behartig word. Enigiemand met relevante inligting word versoek om na vore te kom.
Mev. M.J. Adonis, skoolhoof van Hoërskool Atlantis, het in ‘n verklaring gesê traumaberading word aan leelinge en personeel gebied. Toetse en skoolgeleenthede gaan soos normaal voort.






